Sri Lanka (Singalees: ශ්රී ලංකාව, śrī laṃkāva, [ʃriː laŋkaː]; Tamil: இலங்கை, ilaṅkai, [ilaŋɡaj]), amptelik die Demokratiese Sosialistiese Republiek Sri Lanka (Singalees: ශ්රී ලංකා ප්රජාතාන්ත්රික සමාජවාදී ජනරජය, Śrī Laṅkā Prajātāntrika Samājavādī Janarajaya; Tamil: இலங்கை சனநாயக சோசலிசக் குடியரசு, Ilaṅkai Jaṉanāyaka Sōsalisak Kuṭiyarasu), is 'n tropiese eilandstaat in Suid-Asië en die Indiese Oseaan. Dit is net suidoos van Indië geleë, verder wes is die Maledive en in die noordooste sluit die Golf van Bengale aan. Sri Lanka beslaan 'n oppervlakte van 65 610 km² en het 'n bevolking van 21 982 608 in 2024 gehad. Dié land se hoofstad is Sri Jayawardenepura, maar die grootste stad is Colombo. Singalees en Tamil vorm die twee amptelike tale van Sri Lanka en word deur die twee belangrikste etniese groepe, die Singalese en die Tamils onderskeidelik, gebesig. Van die etniese minderhede sluit in Moors, Maleiers, Han-Chinese, Burgher en die inheemse bevolking van Sri Lanka, Vedda. Sri Lanka het voor 1972 as Ceylon bekend gestaan en was deel van die Britse Ryk, maar nooit van die nabygeleë Brits-Indië nie. Die naam Ceylon word steeds gebruik vir tee, een van Sri Lanka se belangrikste uitvoerprodukte. Voor dit is name soos Serendib en Sinhale gebruik. Sri Lanka beteken in Sanskrit "eerbare eiland". Ceylon was vanaf 1658 tot 1796 'n Nederlandse kolonie. In 1796 neem die Britte die eiland oor, maar op 4 Februarie 1948 word dit 'n onafhanklike land. Sri Lanka is 'n lidland van die Britse Statebond met 'n president as staatshoof. Dié land is vir sowat dertig jaar deur 'n burgeroorlog (1983–2009) tussen die Tamilse Liberation Tigers of Tamil Eelam en die Sri Lanka Weermag verlam. In onlangse jare het Sri Lanka 'n belangrike en gewilde toeristebestemming geword wat die ekonomie laat groei het. Saam met die Maledive is Sri Lanka net een van twee Suid-Asiatiese lande wat as "hoog" op die Menslike-ontwikkelingsindeks (MOI) geranglys word en sy MOI-gradering per capita-inkomste is die tweede hoogste onder Suid-Asiatiese lande. Tydens die Tweede Vryheidsoorlog (1899–1902), ook bekend as die Anglo-Boereoorlog, is ongeveer 5 000 Boere as krygsgevangenes deur die Britte na Ceylon verban.
Developed by StudentB